Honneursgraad in Mensehulpbronontwikkeling
Hierdie nagraadse graad in Mensehulpbronontwikkeling gee aan studente die geleentheid om hulle begrip van mensehulpbronontwikkeling (MHO) uit te brei en te verdiep, wat hulle in staat stel om op ’n strategiese MHO-vlak waarde tot hulle werkplek toe te voeg. Aangesien die graad ’n groot navorsingskomponent insluit, berei dit studente vir meestersgraadstudie in MHO voor.
Let daarop dat hierdie kwalifikasie slegs deeltyds (duur twee jaar), met beperkte verpligte kontakgeleenthede en slegs op die Potchefstroomkampus aangebied word.
Toelatingsvereistes
Kandidate moet ’n geskikte baccalaureusgraad hê met Mensehulpbronontwikkeling as hoofvak, op NKR-vlak 7 of gelykwaardig, waarvoor die student ’n finale gemiddelde punt van ten minste 65% behaal het.
Kandidate moet in hulle voorgraadse kwalifikasie ten minste 65% in hulle navorsingsmetodologiemodule behaal het. Let daarop dat kandidate sonder ’n minimum van 65% in die navorsingsmetodologiemodule van die voorgraadse kwalifikasie toegelaat kan word om terselfdertyd vir hierdie voorgraadse module te registreer.
Kandidate moet bewys van ten minste vyf jaar se huidige mensehulpbronontwikkeling-werkservaring in die vorm van ’n curriculum vitae verskaf.
Studente van ander skole of fakulteite aan die NWU, asook studente van ander erkende universiteite, moet om erkenning van vorige leer (EVL) aansoek doen.Uitkomste van die voltooide modules in die aansoeker se voltooide graad sal met dié wat in hierdie kwalifikasie aangebied word en die voorgraadse MHO-kursus vergelyk word vir toelating. Krediet sal verleen word vir modules wat ooreenstem met dié wat hierbo genoem word. Studente wat om EVL aansoek doen, moet ’n gewaarmerkte afskrif van hulle studierekord, sowel as die uitkomste wat in hulle voltooide graad gedek word, aan die betrokke skool of departement verskaf.
Die toelatingsvereistes soos hierbo gemeld is ook hier van toepassing. Die aansoekers van ander universiteite moet ook hulle voorgraadse kwalifikasie in Mensehulpbronontwikkeling voltooi het en aan die kriteria vir 65% voldoen, en moet ten minste vyf jaar se ervaring in die veld van mensehulpbronontwikkeling hê.
Meestersgraad
Studente wat vir ’n meestersgraad in MHO wil inskryf, moet vir die Meester van Administrasie in Menshulpbronnebestuur aansoek doen. (Kwalifikasiekode: 5CSN01:E801M).
Dui asseblief op die aansoekvorm aan dat jy in Mensehulpbronontwikkeling by die Potchefstroomkampus wil spesialiseer en rig die aansoek aan Prof. Helen Meyer.
Studente wat vir hierdie graad inskryf, sal reeds deur hulle voorgraadse studies die teorie van mensehulpbronontwikkeling (MHO) bemeester het. Deur hulle omvattende professionele agtergrond sal studente ook eerstehandse ervaring van MHO-aangeleenthede hê wat in die vakgebied hanteer moet word en wat vir navorsing geskik is, om sodoende op nasionale vlak tot MHO by te dra.
Hierdie meestersgraad berei kandidate ook vir die PhD in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (met spesialisering in Mensehulpbronontwikkeling) voor. Die kwalifikasie word slegs op ’n deeltydse basis aangebied en bestaan uit ’n volle navorsingsverhandeling.
Toelatingsvereistes
Om vir die meestersgraad in MHO (NKR-vlak 9) in te skryf, benodig kandidate:
- Voltooiing van ’n voorgraadse en ’n honneursgraad in Mensehulpbronontwikkeling op NKR-vlak 7.
- Ten minste sewe jaar se werkservaring, verkieslik as ’n senior MHO-kundige.
- ’n Gemiddeld van ten minste 60% in die honneursgraad.
- Ten minste 60% in die navorsingsmodules HRDT 612, HRDP 671.
Toelating is onderhewig aan programkapasiteit.
Doktorsgraad
Studente wat vir die doktorsgraad in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe met Mensehulpbronontwikkeling (Kwalifikasiekode: 5CA E11 en modulekode: HRDT971) inskryf, sal al die teorie van Mensehulpbronontwikkeling (MHO) tot op NKR-vlak 9 deur hulle voorgraadse en nagraadse studies bemeester het. Deur hulle omvattende loopbaanervaring sal kandidate ook waardevolle praktiese insig verwerf het oor MHO-aangeleenthede wat in die vakgebied hanteer moet word en wat vir navorsing geskik is, om sodoende op ’n globale vlak tot MHO by te dra.
Die kwalifikasie word slegs op ’n deeltydse basis aangebied en bestaan uit ’n volle navorsingstesis.
Toelatingsvereistes
Om vir die doktorsgraad in MHO (NKR-vlak 10) in te skryf, benodig kandidate:
- Voltooiing van ’n meestersgraad in Mensehulpbronontwikkeling op NKR-vlak 9.
- Ten minste tien jaar se werkservaring, verkieslik as ’n senior MHO-kundige.
- ’n Gemiddeld van ten minste 60% in die meestersgraad.
Toelating is onderhewig aan programkapasiteit.
Voornemende kandidate kan die NWU programleier, Prof. Helen Meyer, vir enige verdere navrae by Helen.Meyer@nwu.ac.za kontak. Alle toelatings is onderhewig aan programkapasiteit.