Honneursgraad

 

 

BA Honneurs in Mensehulpbronontwikkeling (Bachelor of Human Resource Development Honours, BHRD Hons)

Hierdie nagraadse graad in Mensehulpbronontwikkeling bied aan studente die geleentheid om hulle begrip van mensehulpbronontwikkeling (MHO) te verdiep en hulle in staat te stel om op ’n strategiese MHO-vlak waarde tot hulle werkplekke toe te voeg. Aangesien die graad uit ’n groot navorsingskomponent bestaan, dien dit as voorbereiding vir die meestersgraadstudie in MHO.

Waarom ons?

Ons maak gebruik van dosente wat nie net self hierdie graad op nagraadse vlak verwerf het nie, maar wat ook kundige praktisyns (met etlike jare ervaring) in opleiding en ontwikkeling is. 

Studente kry tydens kontaksessies die geleentheid om netwerke te vorm en probleme wat hulle op die gebied van opleiding ervaar, te bespreek met kollegas wat ook opleiers in verskillende werkplekke is. Ons het ook internasionale studente wat vir hierdie graad ingeskryf is. Die onderrigtaal (Engels) maak die graad toeganklik vir almal wat aan die toelatingsvereistes voldoen. 

Toelatingsvereistes

Die honneursgraad in Mensehulpbronontwikkeling (NKR-vlak 8) bou voort op en is ontwerp vir daardie studente:

  • Wat ’n baccalaureusgraad in Opleiding en Ontwikkeling/Mensehulpbronontwikkeling voltooi het.
  • Wat ten minste vyf jaar ervaring as opleiers/opleidingsbestuurders op die gebied van MHO het.
  • Wat ’n gemiddelde van 65% in hulle voorgraadse graad in elkeen van die twee navorsingsmodules (OPLN 221 en 321) behaal het.

Toelating hang ook af van die kapasiteit in die program. As jy opleiding en ontwikkeling ontvang het en ’n wye ervaring (verkieslik in ’n senior pos in opleiding en ontwikkeling) met die nodige kwalifikasies het en graag jou professionele en navorsingsloopbaan wil bevorder, is jy ons kandidaat. 

Leweringsmodus

Hierdie graad word slegs op ’n deeltydse basis (twee jaar) met beperkte verpligte kontaksessies aangebied, en is dus geskik vir studente wat voltyds werk. Hierdie graad word slegs op die Potchefstroomkampus en slegs in Engels aangebied. Die leweringsmodus en taalmedium maak dit toeganklik vir alle professionele MHO-praktisyns om te studeer terwyl hulle werk.

Hoe om aansoek te doen

Aansoeke kan slegs aanlyn op die NWU se aansoekportaal gedoen word. 

Aansoeke sluit op 30 September.