Honneursgraad in Mensehulpbronontwikkeling
Hierdie nagraadse graad in Mensehulpbronontwikkeling gee vir studente die geleentheid om hulle begrip van Mensehulpbronontwikkeling (MHO) te verbreed en verdiep, wat hulle in staat stel om op ’n strategiese MHO-vlak waarde tot hulle werksplekke toe te voeg. Aangesien die graad uit ’n groot navorsingskomponent bestaan, berei dit studente vir meestersgraadstudies in MHO voor.
Toelatingsvereistes
Die honneursgraad in Mensehulpbronontwikkeling (NKR-vlak 8) bou voort op en is ontwerp vir daardie studente wat aan die volgende kriteria voldoen:
- Voltooi ’n baccalaureusgraad in Opleiding en Ontwikkeling of Mensehulpbronontwikkeling.
- Beskik oor ten minste vyf jaar se ondervinding as opleiers of opleidingsbestuurders in die MHO-veld.
- Behaal ’n gemiddeld van 65% in elk van die twee voorgraadse navorsingsmodules (OPLN 221 en 321).
Toelating is onderhewig aan programkapasiteit. Kandidate met omvattende opleidings- en ontwikkelingservaring (verkieslik in ’n senior opleidings- en ontwikkelingsposisie), die nodige kwalifikasies en ’n verbintenis om hulle professionele- en navorsingsloopbaan te bevorder, word aangemoedig om aansoek te doen.
Meestersgraad
Studente wat vir ’n meestersgraad in MHO wil inskryf, moet vir die Meester van Administrasie in Menshulpbronnebestuur aansoek doen. (Kwalifikasiekode: 5CSN01:E801M).
Dui asseblief op die aansoekvorm aan dat jy in Mensehulpbronontwikkeling by die Potchefstroomkampus wil spesialiseer en rig die aansoek aan Prof. Helen Meyer.
Studente wat vir hierdie graad inskryf, sal reeds deur hulle voorgraadse studies die teorie van mensehulpbronontwikkeling (MHO) bemeester het. Deur hulle omvattende professionele agtergrond sal studente ook eerstehandse ervaring van MHO-aangeleenthede hê wat in die vakgebied hanteer moet word en wat vir navorsing geskik is, om sodoende op nasionale vlak tot MHO by te dra.
Hierdie meestersgraad berei kandidate ook vir die PhD in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (met spesialisering in Mensehulpbronontwikkeling) voor. Die kwalifikasie word slegs op ’n deeltydse basis aangebied en bestaan uit ’n volle navorsingsverhandeling.
Toelatingsvereistes
Om vir die meestersgraad in MHO (NKR-vlak 9) in te skryf, benodig kandidate:
- Voltooiing van ’n voorgraadse en ’n honneursgraad in Mensehulpbronontwikkeling op NKR-vlak 7.
- Ten minste sewe jaar se werkservaring, verkieslik as ’n senior MHO-kundige.
- ’n Gemiddeld van ten minste 60% in die honneursgraad.
- Ten minste 60% in die navorsingsmodules HRDT 612, HRDP 671.
Toelating is onderhewig aan programkapasiteit.
Doktorsgraad
Studente wat vir die doktorsgraad in Ekonomiese en Bestuurswetenskappe met Mensehulpbronontwikkeling (Kwalifikasiekode: 5CA E11 en modulekode: HRDT971) inskryf, sal al die teorie van Mensehulpbronontwikkeling (MHO) tot op NKR-vlak 9 deur hulle voorgraadse en nagraadse studies bemeester het. Deur hulle omvattende loopbaanervaring sal kandidate ook waardevolle praktiese insig verwerf het oor MHO-aangeleenthede wat in die vakgebied hanteer moet word en wat vir navorsing geskik is, om sodoende op ’n globale vlak tot MHO by te dra.
Die kwalifikasie word slegs op ’n deeltydse basis aangebied en bestaan uit ’n volle navorsingstesis.
Toelatingsvereistes
Om vir die doktorsgraad in MHO (NKR-vlak 10) in te skryf, benodig kandidate:
- Voltooiing van ’n meestersgraad in Mensehulpbronontwikkeling op NKR-vlak 9.
- Ten minste tien jaar se werkservaring, verkieslik as ’n senior MHO-kundige.
- ’n Gemiddeld van ten minste 60% in die meestersgraad.
Toelating is onderhewig aan programkapasiteit.
Voornemende kandidate kan die NWU programleier, Prof. Helen Meyer, vir enige verdere navrae by Helen.Meyer@nwu.ac.za kontak. Alle toelatings is onderhewig aan programkapasiteit.